[Rapport] Fourie du Preez is skynbaar die gunsteling om die Springbok-kapteinskap by John Smit oor te neem.
Hoewel die nuwe Bok-afrigter, Heyneke Meyer, verlede week tydens sy aanstelling gesê het die span se nuwe kaptein is nog ver van sy gedagtes, verneem Rapport betroubaar dat Du Preez, die gewese Bulls- en Blou Bul-skrumskakel wat tans sy rugby in Japan speel, in Meyer se visier is om die nasionale span te lei wanneer hulle in Junie die eerste keer onder sy breierskap in ’n toetsreeks met Engeland kragte sal meet.
Du Preez is ’n veteraan van 62 Bok-toetse en het altesame 237 eersterangse wedstryde op sy kerfstok.
Hy het die Bokke in 2007 en 2011 se Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig.
Du Preez het die afgelope week as die groot gunsteling vir die Bok-kapteinskap op die voorgrond getree toe planne om Victor Matfield as Bok-leier na die rugbyveld terug te lok, skynbaar gesneuwel het.